
Mnr Martin Brink was een van die eerste twee onderwysers wat in 1921, met die skool se opening, permanent aangestel is. Hy word in 1939 as hoof aangestel en tree in 1955 af. Sy nalatenskap was by uitstek die toenemende ontwikkeling van Monnas op alle gebiede, sowel as die vaslegging van ‘n norme en waardesisteem by alle Monumentare! Hy kon sy personeel en leerders saamtrek en inspireer om groot hoogtes te bereik. Dit was na sy aftrede dus uiters gepas dat ons nuwe saal na hom vernoem word. Die Martin Brink Saal is op luisterryke wyse met die kleurvolle operette van Clementine Ward, ZURIKA, in 1957 ingewy..(Ester Badenhorst – meer bekend as ons geliefde Juffrou Esté Pienaar was self as danseres op die verhoog!). Daarna het die Martin Brink saal die hartklop van Monnas se opvoerings, leierinhuldigings, revues, geesvang, sokkies, koorfeeste en prysuitdelings geword. En wat vir elke Monumentaar onvergeetlik is: Maandag-oggende se saal-openinge en die aanhoor van: EK DANK GOD DAT HY MY LEWE EN GESONDHEID GEE. Baie dankie Juffrou Este Pienaar vir die deel van die stukkie geskiedenis en dat U dit so mooi vir ons bewaar!