Trotse rugbyskole  se beeld word gebou op die skool se geskiedenis en veral die tradisies en gebruike wat deur die jare ingestel en instand gehou word. Die jaarlikse Malcullum Marx gedenkwedstryd is een van Monnas se mooi tradisies wat nou al byna 30 jaar plaasvind.

Maar kom ons gaan na die begin.

Malcullum was ‘n produk van Randfontein wat in 1991 na Monnas gekom het en onmiddelik ‘n reuse inpak in die 0/15A-span gemaak het. Hy was deel van ‘n sterk rugbyfamilie waar pa, Dawid , self op die hoogste vlak gespeel en afgerig het.

Sy naam word baie keer verkeerdelik geskryf: McCullum, MacCullum en selfs Makullum.     Malcullum is op 25 julie 1975 gebore.

Hy was ‘n uiters talentvolle speler en alhoewel hy in 1992/93 vleuel vir die Witbulle  gespeel het , het hy ook die rol van spelskepper skitterend vertolk. As staatmaker in veral die  1993 span het hy beïndruk as ‘n puik bebalanseerde hardloper met bal in die hand.

Benewens die feit dat hy ‘n briljante rugbyspeler was het hy ook ‘n pragtige en innemende persoonlikheid gehad met ‘n mooi hart. Hy was altyd respekvol en nederig maar het ook baie selfvertroue uitgestraal.’n Groot familieman.

Monnas het deur die jare ‘n paar vleuels opgelewer wat kon roem daarop dat hulle draaie om hulle teenstanders kon hardloop. Dink maar aan Hennie Mulder , Erwin van den Heever,                  Hercules Venter,Ghaliel Markus, Willem du Toit. Malcullum was een van die heel bestes.

Monnas se Witbulle het in 1993 een van sy beste seisoene ooit belewe waar slegs een wedstryd uit 28 verloor is.Met skitterende totale rugby was hierdie span, waarvan Malcullum deel was,  die grootste punte- en driedruk span tot op daardie stadium wat nog in die Wittruie gespeel het. Die span het beïndruk met hulle avontuurlistige hardloopspel en meer as honderd-en-veertig drieë gedruk.

Gedurende Maart/April 1993 is baanbrekerswerk gedoen met ‘n “eerste” rugbytoer na Frankryk en Brittanje , geborg deur o.a British Airways.”n Wonderlike ervaring vir Malcullum en sy spanmaats.

Die jaarlikste vriendskaplike wedstryd teen Grey Kollege was gelaai met opwinding,drama en vreugde.Sowat 5000 toeskouers het sprankel skole-rugby op sy beste op Monnas se tuisveld gesien. Veral die tweede helfte sal lank onthou word toe Monnas Grey Kollege van hulle voete afgehardloop en vyf skitterdrieë gedruk het.

 Malcullum Marx was een van die helde en druk twee pragdrieë.  Hierdie oorwinning van 34 -12was die derde agtereenvolgende jaar wat hy deel was van ‘n wenspan teen Grey Kollege – in 1991 as deel van die 0/15A span en daarna 1992 en 1993 vir die eerstespan.

In die Transvaal- finaal teen Alberton druk Malcullum weer twee skitter drieë in die oorwinning van 33-0 .

Veggees , stewige verdediging dra by tot ‘n oorwiining van 6-5 teen Affies in die kwarteindrondte in Pretoria. As linkervleuel verdien Malcullum spesiale vermelding  – hy was blitsvinnig op die aanval terwyl sy lakwerk op kritieke oomblikke goudwerd werd was vir die Wit Bulle. ‘n Uitmuntende plettervat in beseringstyd van Malcullum op Dirkie Strydom naby Monnas se doellyn het verhoed dat Affie die wedstryd in die doodsnikke wen.

In ‘n voorwedstryd vir die eindstryd om die LIonbeker  op Ellispark in 1993 klop Monnas vir Sand du Plessis, Direkteurskampioene van Vrystaat, met 58 -8. Malcullum skitter weereens en druk twee van Monnas se tien drieë .

Malcullum het altesaam18 drieë  in die 28 wedstryde in 1993 gedruk en het ook Transvaal Hoërskole op die Cravenweek verteenwoordig. Hy was bestem om in 1994 in Noord Transvaal sy rugby loopbaan voort te sit nadat  hy  by Cravenweek gewerf is.

Aan die einde van sy matriekjaar sterf Malcullum ongelukkig  tragies in ‘n motorongeluk op 25 November 1993  aan die Suidkus  tydens die matriekvakansie.

Huldeblyke het van heinde en ver  ingestroom vir hierdie seun wat ‘n besondere blink rugbytoekoms gehad het.Hy was bestem om groot naam op die rugbyveld te maak as hy nie voortydig  oorlede is nie.

Sy afrigters, ouers , personeel en spanmaats het toe besluit om die eerste tuiswedstryd van elke seisoen aan sy nagedagtenis op te dra. Wyle Manie van den Berg  het ‘n pragtige gedenkplaat geskep waarop elke jaar se tellings aangeteken word.

 “n Argentynse toerspan , Puerto Madryn het in die eerste Malcullum Marx Gedenkwedstryd met ‘n hoogs gemotiveerde en emosionele WitBul span te doen gekry en word met 67 -10 in hierdie “spesiale” wedstryd  geklop. Sover my kennis het Monnas nog net een keer ooit hierdie gedenkwedstryd verloor.

Ons eer Malcullum Marx. 25 Julie 1975 – 25 November 1993

 Hans Coetzee,  Oud-Witbulle Coach